Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS - SONDAG - 6 JULIE 2008

(Tweede uitgawe, drie items laat ontvang ingesluit).

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word.

Oudio is ook beskikbaar via die web www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die koppelings soos aangedui. Vir oudio via Echolink koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie, en vorige bulletins, kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is (Naam en Roepsein), vanuit Pretoria met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB, asook 51,400, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoriagebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

STIL SLEUTEL

Dit is met leedwese dat ons die heengaan van Eric McMillan,ZS5JM, op 30 Junie moet aankondig. Hy was ’n stigterslid van die Highway Amateurradioklub asook voorsitter. Ons innige meegevoel gaan aan sy vrou Udith, kinders, ander familie en vriende.

(POUSE)

In die nuus vandag:

NUWE GROEP OM BHF-SAKE TE BEHARTIG

KAAPSTAD NA PRETORIA DEUR MIDDEL VAN METEORVERSTROOING

NUWE BROSJURE OOR AMATEURRADIO NOU OP DIE WEB

RADIO ZS IN DIE POS

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

NUWE GROEP OM BHF-SAKE TE BEHARTIG

Die Raad van die SARL het Nico van Tonder, ZS6AQ, aangestel om ’n komitee saam te stel om die bandbeplanning vir BHF/UHF, herhalerbeplanning en lisensiëring asook BHF/UHF-kompetisies te behartig. Vincent Harrison, ZS6BTY, Pierre Holtzhausen, ZS6PJH, en Craig Symington, ZS6RH, sal by Nico aansluit. Die groep het alreeds begin om verskeie rekords op datum te bring waardeur ’n interaktiewe databasis en dekkingsdiagramme vir alle herhalers op te stel. ’n Spesiale e-posadres is gestig. Stuur asseblief in die toekoms alle herhaleraansoeke asook korrespondensie wat te make het met BHF/UHF-sake aan vhf@sarl.org.za. Klubs word versoek om met Nico saam te werk wanneer gevra word vir die nodige inligting.

KAAPSTAD NA PRETORIA DEUR MIDDEL VAN METEORVERSTROOING

Op 21 Junie het Pine, ZS6OB, en Naz, ZS1NAZ, op 2 meter, deur middel van meteor verstrooiing oor ’n afstand van 1 298 km kontak gemaak. WJST-sagteware het ’n totaal nuwe wêreld vir radioamateurs met beperkte toerusting oopgemaak. Die krag gebruik was 5 watt. Pine, ZS6OB, het 4 sestienelement Yagis gebruik terwyl Naz, ZS1NAZ, ’n 12 element Yagi gebruik het. Die kontak het rondom middag plaasgevind wat nie die geskikste tyd van die dag is nie.

WJST is ’n rekenaarprogram vir BHF/UHF-kommunikasie wat gebruik maak van hedendaagse digitale tegnieke. Dit kan seine dekodeer wat slegs vir ’n breukdeel van ’n sekonde vanaf geïoniseerde meteorspore weerkaats word, sowel as bestendige seine wat meer as 10 dB swakker is as die wat benodig word vir konvensionele GG. Een van sy operasionele modusse, JT65, is veral van toepassing vir amateur AMA-(Aard-Maan-Aard)kommunikasie. WJST is oopbronsagteware.

Om WJST te gebruik is ’n rekenaar wat met ’n klankkaart toegerus is en van Microsoft Windows, Linux of FreeBSD operasionele stelsel gebruik maak, benodig.

Kommunikasie dmv. meteorverstrooing is ’n radiovoortplantingsmodus wat die geïoniseerde spore van meteore gedurende atmosferiese indringing gebruik om ’n kortstondige kommunikasiepad tussen radiostasies daar te stel, wat tot 2 250 kilometer van mekaar is. Soos die aarde op sy orbitale pad beweeg dring tienduisende partikels, bekend as meteoriete, die boonste atmosfeer binne. Wanneer hierdie partikels begin om uit te brand laat hulle ’n spoor van geïoniseerde partikels na wat tot ’n paar sekondes kan voortbestaan. Die geïoniseerde spore kan baie dig wees en dus bruikbaar wees vir die weerkaatsing van radiogolwe. Die frekwensies wat gereflekteer kan word deur enige besondere spoor word bepaal deur die oorspronklike partikelgrootte, en is gewoonlik tussen 20 MHz en 500 MHz. Naz en Pine sal enige geleenthede verwelkom om met ander stasies skeds op te stel. Stuur e-pos aan Pine met e-posadres janpienaar@ananzi.co.za of aan Naz met adres erc@pola.co.za.

NUWE BROSJURE OOR AMATEURRADIO NOU OP DIE WEB

Die SARL het ’n nuwe brosjure oor amateurradio gepubliseer wat beskikbaar is vir aflaai vanaf www.sarl.org.za. Die brosjure is in volkleur en geformatteer vir PDF vir maklike druk met ’n kleurdrukker.

RADIO ZS IN DIE POS

Radio ZS is vroeër hierdie week gepos en is ook vir SARL-lede beskikbaar vir aflaai. Die Mei/Junie-uitgawe het verskeie artikels oor antennas Beginnende met Dave Ingram in sy gereelde kolom “Ham Pride and Legacies” waarin hy skryf oor verskeie antennas vanaf ’n onsigbare draadantenna tot een wat op ’n fiets gemonteer is. In ’n artikel genaamd “Amateur Radio, a foundation for technical knowledge” kyk ZS6AKV hoe amateurs sedert die eerste dae van radio bygedra het tot tegniese kennis en innovering.

Riaan Stopforth, ZS5RA, skryf oor die opstelling en kalibrering van ’n multibipolare antenna wat ’n baie interessante konsep is. Dit moet gelees word.

In “Digital Modes” sê ZS5RA dat geen hok sonder “Ham Radio Deluxe”, ’n baie interessante sagtewarepakket wat gratis afgelaai kan word, behoort te wees nie.

Daarbenewens is daar die gereelde artikels vir jou leesplesier.

SARL-HMO-BAKENPROJEK OP DREEF

John Willescroft, ZS6EF, rapporteer dat die SARL-HMO-bakenprojek op dreef is. Die verskeie lesse wat geleer is tydens die toetsperiode het bygedra tot ’n baie verbeterde ontwerp. Die bakens is voltooi en sal gedurende die volgende paar weke ontplooi word. Die installering sal op ’n sistematiese basis ontplooi word beginnende in KwaZulu-Natal. Wanneer die uitplasing begin sal SARLnuus nuus verskaf oor wanneer die bakens geaktiveer word. Inligting sal ook op die bakenbladsy van www.sarl.org.za geplaas word.

SCI-BONO AMATEURRADIOFONDS

Maatskappye en individue word genooi om bydraes te maak tot die Sci-Bono amateurradiofonds. Die Sci-Bono Wetenskapontdekkingsentrum in Johannesburg het 'n projek begin waardeur daar 'n toring en antennas by die sentrum opgerig sal word.

Bydraes tot Sci-Bono, 'n seksie 21 maatskappy, sal beloon word met 'n seksie X 18 belastingsertifikaat wat die houer daarvan kwalifiseer vir 'n belastingkorting. U bydrae kan u moontlik niks kos nie. Vir meer inligting kontak Chris Gryffenberg, ZS6COG, per e-pos na zs6cog@gmail.com of laai die brief van SciBono af vanaf www.zs6cog.co.za.

'n Spesiale woord van dank aan Klaus Knopf, ZS1QO, en Gary Immelman, ZS6YI, wat reeds geld asook persoonlike tyd en moeite tot hierdie noemenswaardige onderneming bygedra het.

KOMPETISIENUUS

Die IARU-HF-kampioenskappe is op die lug vanaf 12:00 UTC op Saterdag 12 Julie tot 12:00 UTC op Sondag 13 Julie. Dit is 'n foon- en GG-kompetisie op die kompetisiebande vanaf 160 tot 10 meter. 'n RS- of RST-verslag en die ITU-sone word uitgeruil, Suid-Afrika is in sone 57.

Die Sandton ARK sal ZS0HQ bedien vanaf die Nasionale Amaterradiosentrum en sal 'n RS of RST verslag en SARL uitruil.

KLUBNUUS

Die Sandton Amateurradioklub, ZS6STN, bied hulle volgende RAE-klasse, wat op 16 Julie 2008 om 19:00 begin, by die NARS in Honeydew aan. Enige belangstellende studente kan gerus vir meer inligting by Mark Zank by 083 367 8943 aanklop.

SANDTON 145,700-HERHALER TERUG OP DIE LUG

Na ‘n gaping van baie maande is die145,700 herhaler van die Sandton ARK weer in werking op die Bryanston watertoring. Die Sandtonklub vra dat u dit toets en u kommentaar stuur aan zs6phd@mweb.co.za.

Hierdie herhaler sal op ‘n eksperimentele basis elke naweek vanaf 17:00 Vradag tot 06:00 Maandag met die Sandton 70 cm herhaler op 438,800 gekoppel word. Dit sal toegang met die IRLP-koppeling op 145,700 elke naweek moontlik maak.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal oor die algemeen stil tot onrustig wees met aktiewe vlakke wat gedurende 12 en 13 Julie verwag word. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. Die verwagte DX-toestande is goed vir die Noordelike rigtings maar vrotterig vir die hoofsaaklik Noord-Westelike paaie.

20 m is die beste keuse vir DX met moontlike flou 20 m-openinge vanaf 15:00 SAT na Indië. Kontakte met Australië en Nieu-Zeeland gaan baie uitdagend wees. Vanaf ongeveer 08:00 en weer om 17:00 is daar moontlike 20 m-openinge na Europa. Kontakte met die VSA gaan baie uitdagend wees.

10 MHz lyk laatmiddag en na sononder bruikbaar vir die morsekode- en digitale entoesiaste.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende die oggende en laat middag goeie resultate oor die korter afstande te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate oor die langer afstande lewer.

Saans is 80 m die beste keuse, veral nou dat die meeste donderstorms en staties agter die rug is. 160 m gaan ook baie bruikbaar wees. Dit is nou die ideale tyd om 'n plan vir 'n 160 m antenna te maak as jy nie alreeds een op het nie en die opwinding en nukke van topband wil beleef.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF jou steeds kan verras. Skakel jou stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

6 Julie - Spertyd vir indien van BHF-/UHF-Mikrogolfrekords;
12 Julie – IARU-HF-kampioenskappkompetisie;
16 Julie – ZS6STN begin RAE-klasse.

SARL nuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Indien moontlik, voorsien nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 590 kHz, te luister. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Gustav, ZS6BWN saamgestel is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003